Weskuslekkerte 2009! 

Tersia Müller

SA Nasionale Toeristegidsen

Veldblomspesialis doen vanjaar haar 17e

Veldblomtoer na Nieuwoudtville
en Namakwaland in samewerking met
Pride Africa Safaris.

Ons neem ‘n klein groupie van 8 mense. Vervoer in ‘n twaalfsitplek Quantum!

 

Datums: 14 - 23 Aug 2009

Daar is goeie vooruitsigte vir baie blomme!

Betaling geskied oor drie paaiemente!

 

Kontak Tersia vir meer besonderhede: 082 462 3682

 

Duur: 9 1/2 Dae 14-23 Aug 2009
Pax:  8 + Tersia
Tipe vervoer:  Quantum (12 sitplekke)

Die toer word in beide Afrikaans en Engels aangebied en ons gesels nie net oor blomme nie. Ons maak ‘n allegaartjie van geskiedenis, die landbou, ekonomie, plante, diere en voëls en dan kruie ons dit met stories van die Weskus. Julle kan ‘n paar byvoeg!! En dan is daar een voorwaarde – die toer begin nie aan die Weskus nie, dit begin die oomblik wat ons in Johannesburg wegtrek!

Dit is my sewentiende jaar in die blomme so by dié tyd weet ek so min of meer teen watter bult of in watter vlei groei daardie spesiale soorte waarna ons gaan soek. Met ‘n groot bus vol mense kan ‘n mens nie so intensief  kyk nie vanweë die tydsbeperking, die bus wat nie al die klein paadjies kan ry nie en die massa mense.

Hierdie is werklik ‘n spesiale toer. Julle sal NOOIT teleurgesteld wees nie. As dit enigsins moontlik is wil ek die groep na ‘n braai uitnooi op Saterdag 4 Julie of Sondag 5 Julie sodat ons mekaar kan leer ken en die reis bespreek.

Julle sal sien dat enkele toegangsfooie is opsioneel omdat die mense aan die Weskus nie voor einde April die datums van die volgende kan gee nie: Calvinia Vleisfees, Clanwilliam en Hopefield blomskoue en of dit gaan reen in Botterkloof nie – daar waag jy dit nie as dit reen nie!!! Dan kan ons eers op die toer besluit of ons tyd het om by Augrabies waterval aan te gaan. Dalk is ons te moeg of te vet geëet of te platsak!!!

Ons ry met ‘n Quantum wat 12 sitplekke het, so daar is lekker spasie vir almal. Ek kan wel meer mense neem, maar dan moet ons ‘n waentjie sleep. As dit op die keper kom kan ons dit tog doen, maar ons hou vir eers by 8 passasiers plus myself.

Hierdie jaar is die akkommodasie al reeds in Februarie so amper vol. Ek was net betyds met die besprekings. Julle moet so gou as moontlik depositos betaal want ons kan nie die plekke te lank hou nie. Akkommodasie is net bevestig met betaling van ‘n deposito.

Die akkommodasie is in kamers wat twee-twee gedeel word of in huise met genoeg  slaapkamers en badkamers. Daarom sal ek bly wees as julle twee-twee kan deel. As iemand enkel akkommodasie wil bespreek vir die hele toer moet u met my kom gesels dat ons ‘n plan kan maak vir ‘n paar rand ekstra.

Daar is volledige kombuise en braaiplekke by al die akkommodasie. Op ons eerste aand eet ons vroeg in Kimberley en bly ons by ‘n plaas gastehuis op Modderrivier en daar is ‘n heerlike ontbyt ingesluit. Die tweede aand se aandete en ontbyt is ook ingesluit by Die Ark in Williston – ‘n verrassend “anderse” plek met tonne gasvryheid en ‘n vertoning by aandete op die koop toe!.

Ek koop al die voorraad in Calvinia vir die volgende 2 aande – ook die Karoovleis as ons wil braai. Ek hoop julle gaan tevrede wees met ontbyt en aandete ala Tersia. Daar is wel restaurante by ALLE dorpe en ons kan kies of ons wil kos maak of by ‘n restaurant eet. Ek het ‘n lys van etes aan die einde bygevoeg! Nader aan die vertrek stuur ek ‘n lys om met al julle voorkeure as julle ala Tersia wile et – dit is ook groot pret!

Reisplan

Dag 1  Vry 14.08.09
13h00 Vertrek vanaf Johannesburg. Neem die N12 deur die Noordwes Provinsie na Kimberley. Daar maak ons ‘n stop by ‘n winkelsentrum waar ons aandete nuttig en vertrek dan na Modderrivier (25km) waar ons oornag op ‘n plaas.  Ons stop elke 2 ure om die bene te rek. Neem iets saam om aan te peusel. Ons sal so 19h00 op die plaas wees waar ons oornag in gerestoureerde Kaaps-Hollandse perdestalle – pragtig!!!.

Akkommodasie:  Langberg Gasteplaas van Tienie en Maritha Neethling  B&B
Jhb – Modderrivier, 500km

Dag 2  Sat 15.08.09
Volg die pad deur Hopetown, Strydenburg en Britstown na Victoria Wes, Mannetjies Roux se plek! Ons begin vroeg en stop elke 2 ure om die bene te rek. Neem iets saam om aan te peusel. Ons kan by hom gaan middagete nuttig as die tyd reg is.

Draai weg op die R63 na Loxton en Carnarvon. As ons gelukkig is, sien ons dalk Karoo blomme – Jantje Bêrens, Kapokbos en Ghaap om nie eers van die roofvoëls te praat nie – Jakkalsvoëls, bleeksingvalke en uile en miskien ‘n sekretarisvoël. Stop by een van die korbeelhuisies in die omgewing van Carnarvon.

Ons sal so tussen 17h00 en 18h00 op Williston wees.

Akkommodasie: Die Ark D, B&B (By die Vlieende Piering Winkel en die Naude Kunsgallery.)
Modderrivier – Victoria Wes, 360km / Victoria Wes – Carnarvon, 150km Carnarvon – Williston, 140km   Totaal: 650km
           
Dag 3  Son 16.08.09
Ons eet ‘n Ark ontbyt en vertrek om 08h30 vanaf  Williston na Calvinia.  Geniet die Karooplantegroei – perdevye en gazanias wat kol-kol staan in die Hantam.

Oor middagete besoek ons die Hantamhuis in Calvinia (oorkant die grootste posbus in Afrika!)eet Karookos, koop gedroogde vye, dadels en skuinskoekies. Onthou Calvinia se baie lekker vleis en as die vleisfees aan die gang is (opsioneel), val ons daar in! Ons koop voorraad vir drie dae. As daar tyd is besoek ons die museum (opsioneel) voordat ons die pad vat na Nieuwoudtville – die plek met die grootste konsentrasie van geofiete (bolplante) in die hele wêreld!

Ons ry heel middag deur die blomme van die Hantam op pad na Nieuwoudtville.
Kry die sleutel en adres van ons huis by Hester se “Rooidakke”. Pak af. Besoek die Nieuwoudtville Veldblom Reservaat as daar tyd is en neem ‘n wandeling deur die dorp met al sy geel katsterte, oranje Namakwalandse madeliefies en baie meer!

Akkommodasie: Hester se Rooidakke: Die Groot Huis (Slaap 9) Nieuwoudtville 
Selfvoorsienend vir ontbyt (Ingesluit), middagetes en 2 aandetes (Eie rekening)
Williston – Calvinia, 120km / Calvinia – Nieuwoudtville, 70km  Totaal:  190km
+ 60km deur die blomplase.

Dag 4  Ma 17.08.09
Besoek die Oorlogskloof Reservaat en die rotskuns van de Lande. Willem van Wyk van Papkuilsfontein neem ons op ‘n 4x4 toer deur die mooiste blomme van die Nieuwoudtville plato en die Oorlogskloof waterval. Ons stop ook by die gletserspore aan die suide van die dorp, daar waar die lachenalias trots tussen die lae bruin rotse uitpeul. Eet middagete by Matjiesfontein en gaan op soek na die langtongvlieg wat die babianas en ander “tregterblomme” bestuif.

Volg ‘n roete deur die blomme van Nieuwoudtville en Loeriesfontein distrik. Besoek die Kokerboomwoud en die Nieuwoudtville waterval. Nieuwoudtville is die beste plek om die plate katsterte te aanskou, om nie eers te praat van satynblomme, ixias en harlekynblomme nie!

Afstand: 150 km
Akkommodasie: Hester se Groot Huis    Selfvoorsienend - ‘n heerlike braaiplek!
Vanaand braai ons ala Tersia of ons eet by Hendrik van Zyl se restaurant (opsioneel – R150 driegang maaltyd) 

Dag 5  Di 18.08.09
Vertrek deur die Knersvlakte na Vanrhynsdorp. Besoek die sukkulentskou. Op die dag laat die weer en die blomme ons lei.

Vertrek deur Klawer na Clanwilliam en Lambertsbaai. Besoek die Ramskop veldblomtuin, die Velskoenfabriek, die Rooibosteefabriek en die Clanwilliam Blommeskou (opsioneel) as dit oop is. Ons eet middagete op Clanwilliam.
Strassbergers Velskoene 027 482 2140.

By Lambertsbaai sal daar dalk walvisse in die baai wees. Voëleiland is toe onder die kenmerkende Kaapse malgasse. Dit is ‘n belewenis om te sien.

Aandete is bespreek by die Muisbosskerm, ‘n restaurant aan die strand, 5km suid van die dorp.Die smullekker geregte word op oop vure berei en bedien onder die sterre. (Daar is plek onder dak!)) Vir die wat nie van seekos hou nie is daar, vars brood uit die buite-oond met korrelkonfyt, skaapstertjies met veldkool of beesstertbredie, ens, ens. Hier eet jy tot jy “dood”! Hou die see dop vir ‘n walvis of twee! Hierdie ete is ‘n MOET!.

Afstand: 200km
Aandete by Muisbosskerm Vol gelisensieerd               
Akkommodasie: Yan Smit, Eureka Akkommodasie, Lambertsbaai   Selfvoorsienend  Wooneenheid vir 5 (2 badkamers) en vir 4(1 badkamer)

Dag 6  Wo 19.08.09
Ons maak lekker ontbyt (ala Tersia) en ry na Klawer.se wynkelder vir ‘n lekker bottle wyn.  Van daar vertrek ons na Bitterfontein en Kamieskroon al deur die blomme. Miskien kan ons via Vredendal ry!

Afstand: 370km
Akkommodasie: Randspaar groot huis: 4 dubbelkamers, en 3 badkamers. Ek slaap in die leefarea. Randspaar hou vir ons lekker plaasvleis en ons braai of…of…

Dag 7 Do 20.08.09 
Ek maak weer ontbyt en ons vertrek so 09h30 na Skilpad Nasionale Park, eet daar middagete (lekker roosterkoek, ens!) en kom so al met die blomme terug na die dorp. Hierdie is ‘n rustige dag met lekker ontspanning.

Afstand: 100km
Akkommodasie: Randspaar groot huis: 4 dubbelkamers, en 3 badkamers. Ek slaap in die leefarea.

Dag 8  Vry 21.08.09
Vertrek na Springbok so stop-stop agter die blomme aan. Besoek Goegap Natuurpark en eet ook middagete daar. Besoek ook die sukkulenttuin in die Reservaat.  Arriveer by huisies om 16h00.

Afstand: 150 km
Akkommodasie: Springbok Akkommodasie B&B – Twee huisies  Ontbyt by Jopie Kotze se Restaurant langs ons wooneenhede (ingesluit). Ek stel voor dat ons die vorige aand daar by sy Ala Carte Restaurant eet (opsioneel) of ons eet ala Tersia.

Dag 9  Sat 22.08.09
Vertrek na Upington na ontbyt by Jopie Kotze (ingesluit). Besoek die Augrabies Waterval (opsioneel), en die wynkelder op Kakamas. Eet middagete by Augrabies of Upington. Vertrek dan na Witsand, noord van Groblershoop waar ons die brullende sandduine van die Reservaat besoek. Aandete is ala Tersia uit ons fooiepot

Akkommodasie: Witsand Reservaat, Chalets  - 5 dubbel chalets met badkamers
Afstand: Springbok - Upington 445km via Augrabies, Upington – Witsand 245km
630 km + 60 km ekstra as ons na Augrabies gaan

Dag 10 Son 023.08.09
Ons vertrek na Johannesburg na ‘n heerlike ontbyt. Ons is so 17h00 in Johannesburg

Afstand 720km 

Prys pp: R5,500.00
(Ons het begroot vir so ongeveer 3,880 km in totaal.)

Die prys sluit in:
Alle akkommodasie
Alle ontbyte (Drie by restaurante en 6 ala Tersia)
Aandete by Die Ark (2e aand) en Muisbosskerm.
Toegangsfooie behalwe vir opsionele toere
 Ek voorsien padkaarte en blomkaartroetes.

Uitgesluit:
Fooitjies en persoonlike versekering
Middagetes, 7 aandetes (Sien tabel).

Opsionele toere: Calvinia Vleisfees, Clanwilliam en Hopefield blomskou (datums nog nie beskikbaar!), Botterkloof, Augrabies Waterval (Tydsbeperking).

Maak voorsiening vir klein koelhouer vir jou water en koeldrankies en warm fles vir kookwater, koffie en tee terwyl ons blomme kyk. Neem jou eie beker en teelepel saam (Ek neem ook een saam!)

Ek neem ‘n Koelsak met ys – julle kan jul eie drankies byvoeg op die langpad en die blomritte.

Wat om saam te neem:
Gerieflike klere en skoene, ‘n hoed, windbreker of sambreel en/of reënjas, sonbrand- beskermer, sonbril. Iets warm vir die koue aande (trek dit aan of drink dit!) Neem die kleinste tassie in jou besit!??!??! Piekniekversnaperinge vir die eerste dag. Geld vir versnaperinge oor middagetes – eet groot ontbyt en aandete en dan het ons dalk net vrugte nodig vir die res! Onthou ‘n bottel wyn vir die eerste 3 aande – die res kan ons daar koop. 

Opsioneel: ‘n kamera, verkyker, voëlboek en veldblomgidse.  (Namakwaland Veldblomgids van Annelise Le Roux en Ted Schelpe en Nieuwoudtville Bokkeveld Plateau & Hantam Gids No 9 van John Manning en Peter Goldblatt  Ek neem ook hierdie boeke saam!
                 
Dit gaan een groot fees wees en ‘n ervaring wat u altyd sal onthou!! 

Tersia Müller

Ontbyt ingesluit

Dag

Datum

M= Middag en A = Aandetes

Betaling

1

14.08.09

A= Kimberley of piekniekmandjie

Eie

2

15.08.09

M = Piekniekmandjie of stop op pad
A = Die Ark, Williston + vertoning

Eie
(Ingesluit)

3

16.08.09

M= Hantamhuis, Calvinia -  
       skuinskoekies
A = Ete ala Tersia  Nhdvl of restaurant

Eie
Eie

4

17.08.09

M = Tussen die blomme - Matjiesfontein
A = Braai ala Tersia

Eie
Eie

5

18.08.09

M= Clanwilliam
A = Muisbosskerm of in dorp

Eie
(Ingesluit)

6

19.08.09

M = Bitterfontein of Vredendal
A =  Kamieskroon ala Tersia

Eie
Eie

7

20.08.09

M = Skilpad Reservaat Restaurant – roosterkoeke!
A = Kamieskroon braai ala Tersia

Eie

Eie

8

21.08.09

M= Goegap Reservaat      
A = Springbok Restaurant

Eie
Ala carte - eie

9

22.08.09

M= Augrabies of Upington
A = Witsand – ala Tersia

Eie
Eie

10

23.08.09

M = Erens naby Jhb

Eie


Betalings: Met bespreking R3,000.00  
  2e Betaling   R1,500.00 (Nie later as 1 Julie)
Kontant by vertrek   R1,000.00 (Dit gebruik ons vir toegangsfooie, koop ontbyt en gooi diesel in)
Totaal     R5,500.00 

Neem kontant saam vir snoeperye, middagetes, aandetes en opsionele toere. Julle het geen ander uitgawes nie. Ons maak ‘n fooiepot en hou rekord van wat ons koop vir middag en aandetes. Ons stel ‘n Minister van Finansies aan!! Middagetes behoort nie meer as R35 pp per ete te wees nie en aandetes so R50 pp ala Tersia, drankies ingesluit maar as jy by restaurante wil eet, las nog R100 per ete by! (My kos is lekkerder!!!!!!)

Klousule:  Kansellasiefooi na eerste betaling 5%, na tweede betaling 50% en na 30 Julie 100%.